Wendy Joy Crowley soos vertel aan ESTELLE CYSTER

As kind het Wendy Joy nóóit ’n kerkdiens op Sondae gemis nie. Dit was immers in die kerk waar haar liefde vir musiek gebore is.  En by die huis, in Stellenbosch, het gospelliedjies dikwels in die agtergrond gespeel. “Mens besef nie die groot impak wat gospelmusiek maak nie. Vandag is dié genre my fondasie,” vertel Wendy met ’n groot glimlag.

Musiek is die een ding wat altyd daar was vir haar. Op die jeugdige ouderdom van ses het sy vir die eerste keer voor ’n gehoor opgetree by ’n Sondagskoolkonsert. “Ek was só nervous dat ek gehuil het.” Gelukkig kon Wendy die mense se positiewe energie aan voel. “Dis hoe ek geweet het dat ek eendag ’n sangeres wil wees.”

Sang het haar droom geword, en sy het begin om haar droom waar te maak.

Op laerskool was Wendy lid van die kinderkoor, maar op hoërskool het sy niks musikaals aangepak nie. “Ek het maar hier en daar by mense se huise gesing. My talent was maar altyd agter geslote deure.” Maar soos Wendy ouer geraak het, het haar droom sterker geword. Maak nie saak wat gebeur nie, sy wou sing.

Vandag, jare ná haar eerste opvoering, leef Wendy haar droom uit. Hier volg haar reis met musiek, in Wendy Joy se eie woorde:

Wie in jou familie was ’n goeie invloed? Dis nie juis ’n spesifieke familielid wat ’n musikale invloed op my gehad het nie. Musiek was altyd my comfort zone, my plekkie.

Het jy aan enige talentkompetisies deelgeneem?  Ek het nooit in kompetisies geglo nie, maar ek het wel in 2012 aan die Mountain Mill-kompetisie in Worcester deelgeneem en die top-tien gehaal. Kort daarna het ek aan Stellenbosch 360 se talentkompetisie deelgeneem.

En daarna? Toe gaan ek na die Grahamstad se Jazzfees, wat ’n groot lewenservaring was. Daar was kunstenaars soos Melanie Scholtz en Sibongile Khumalo. As jy goed in ’n kategorie is, word jy gekies om op te tree en ek was goed in die Performance-kategorie. Ek het toe saam met ’n Franse kunstenaar opgetree en ek het altyd geweet dis waar ek myself sien. Nou het ek drie genres waarop ek fokus: gospel, jazz en klassieke musiek.

Wie het jou gehelp om te kom waar jy nou is? Die grootste support in my lewe is my ma, en natuurlik my pa. Hulle het my moed ingepraat, rigting gegee en gemotiveer in tye wanneer ek wou ophou.

Wanneer was jou “defining moment”? Ek was 22, besig met ’n musiekkursus. ’n Groepie van Duitsland het gekom en vir ons ’n song geleer. Hier staan ek, ’n onervare sangeres met ’n droom. Ek begin sing met die band en sê vir myself: “I don’t care what happens now. This is my moment.”

Hoe voel jy wanneer die gehoor na jou luister? Wanneer ek sing, heers daar ’n doodse stilte en mens kan die tension voel. Almal trek saam met jou deur die reis van die song. Soms voel dit ek is in die kerk, want maak nie saak watter song ek sing nie, party mense lig hul hande op of sak hul koppe. Dis soos mense wat gehipnotiseer is. Dis hoe ek weet die audience word geraak deur my optrede.

Moes jy enige opofferinge maak langs die pad? Daar was baie verhoudings wat ek nie kon aanpak nie, want ek het gevoel ek gaan my fokus verloor. Langs die pad het my vriende al getrou of dinge aangepak wat ek nie kon nie. Ek moes versoekings wegwys en dit het my gehelp om beter te kan onderskei. So dit het glad nie vir my benadeel nie. Ek kan nou beter keuses maak.

Watter sangers inspireer jou? Plaaslik is dit Melanie Scholtz, Sibongile Khumalo, Natalie Rungan, Judith Sepuma en Lira.

Op ’n internasionale vlak is dit CeCe Winans, Kirk Whalum, Ella Fitzgerald en Celine Dion.

Is dit die moeite werd om musiek as loopbaan te kies? Mense glo mos kuns bring nie geld nie. Vir my gaan dit oor meer as net kuns. As jy in jou droom glo, dan sal dit geld inbring. Ek kan in jou gesig kyk en sê ek pluk die vrugte. Ek is tans deel van ’n sanggroep waar ons leer hoe om op ’n internasionale vlak te kom.

Enigie advies vir toekomstige musikante? Dit gaan cheesy klink, maar my boodskap is rêrig om te glo in wat jy wil doen. Glo dat jy en jou drome waarde het. Jou kleur, geslag of agtergrond bepaal nie jou toekoms nie.

Jy het die krag om jou present te verander. Dis die beste geskenk wat jy jouself kan gee: om te glo in jou drome.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *