“Op Vlottenburg was al die mense aarbeiboere – behalwe Oom Solly. Dié was die uitsondering in die reël en hy het met appelliefies geboer.”

Vlottenburg is ‘n plaaslike gemeenskappie en geleë sowat vier kilometers buite Stellenbosch. Dis omring met pragtige wyn- en veeplase en natuurlik die boere- en plaasgemeenskap. Leatitia Solomons-Manuel, ook ‘n inwoner van “Vlotties”, het gaan kers opsteek by bekende inwoners oor die geskiedenis en erfenis van Vlottenburg.

Ek was nuuskierig oor die gemeenskap, seker maar omdat ek ook eintlik van “Vlotties” is, en het tyd gemaak om met van die mense daar te gaan gesels. Ek moet sê dis nie net ‘n pragdorpie nie, maar eie aan die inwoners, is hul vriendelikheid. So kon ek kuier-kuier meer leer oor die dorpie se erfenis. My eerste stop was sommer daar onder die treinbrug waar ‘n gawe ou omie my hartlik verwelkom. Ek gesels met een van die oudste inwoners van Vlottenburg, Isak Hermanus Van Niekerk (eintlik gedoop Isak Hermanus Links).

Hy het eers later agtergekom sy ouers was nooit getroud nie. Net daar het hy besluit om sy ma se van, Van Niekerk, aan te neem en so vir sy identiteitsdokument aansoek gedoen. Hy is gebore op Vlottenburg op 25 September 1938. Op skool het hy vir Elizabeth Bertha ontmoet, wat toevallig ook op Vlottenburg gebore is. Die twee, vertel die spontane oom, het aanvanklik nooit van mekaar gehou nie, maar vandag, 57 jaar later, is die twee steeds gelukkig getroud. Uit hierdie huwelik is drie kinders gebore en hulle is die trotse grootouers van kleinkinders en twee agterkleinkinders. Oom Sakkie, soos almal hom ken, vertel dat hy op 14-jarige leeftyd die skool verlaat het om te gaan werk. By sy aankoms by die hek is hy deur die werkgewer meegedeel dat hy nie mense onder 16 jaar in diens mag neem nie. Net daar “verjaar” hy sommer en hy word 16 jaar oud en in diens geneem!

Hy vertel dat die gemeenskap aanvanklik “Vlottenberg” genoem is, en dat die dorpsmense hulle altyd gespot het as “plaasjapies” of “patattrappers”. Toe besluit die inwoners hulle is burgers van die dorpie, en so het die “berg” toe “burg” geword en nou praat almal van Vlottenburg. Oom Sakkie noem dat hulle nooit die plaaslike koerante in ‘n kafee kon koop nie, want die koerante is by twee blanke tannies, Miss Susie en Miss Gerty, se huise afgelewer. Hulle moes dan die koerante daar gaan koop. Hy reken die tannies het seker so ook maar ‘n kommissie verdien!

Op Vlottenburg was al die mense aarbeiboere – behalwe Oom Solly. Dié was die uitsondering in die reël en hy het met appelliefies geboer. Oom Sakkie onthou ook dat die skoolreëls baie streng was en dat hulle baie gesteld was op netheid. “Kyk, as jou voete en hakke skurf was, moes jy met ‘n baksteen in die rivier gaan sit en daai gebarste hakke behoorlik skrop.” Hy onthou ook hoe hulle altyd by Oom Jakob en Maria Solomons gaan aanklop het vir toebroodjies en vrugte. Dis waar ek toe ook ‘n bietjie meer leer van my erfenis, want dit was my ouma- en oupagrootjie. Met ‘n glinstering in sy oë vertel hy van Vlottenburg se sokkerspan, die Lyons. Die span is eintlik gebore toe van die soldate wat in 1947 van die Tweede Wêreldoorlog teruggekeer het, ‘n sokkerspan kom stig het. Sokker was maar een van die dinge waarmee lede van die Vlottenburg-gemeenskap hulle besig gehou het. Daar was ook destyds die string bands waar jy jou kon uitleef. Hy onthou die eenstring band, “Young Morning Stars”, wat menige kompetisies gewen het.

Oom Sakkie sê in daardie dae kon jy nog saans laat rondloop en selfs somersaande buite slaap sonder dat enige iemand jou sou pla. Hy noem dat Vlottenburg Primêr vandag die beginpunt van alles is, want dis waar almal vir ‘n groot byeenkoms bymekaarkom. Hy voeg sentimenteel by dat hulle so ‘n klein gemeenskappie is, maar dat dit so jammer is dat die nuwe geslag inwoners nie daai eienskappe van hul voorvaders geërf het nie. “Oom Sakkie kom nie van Isak af nie, maar omdat ons almal maar weens armoede mekaar se klere moes dra, en my pa se broek soos ‘n kardoes aan my gehang het, vandaar die naam ‘Sakkie’,” lag hy, en so groet ek Oom Sakkie en Aunty Lukkie, sy vrou. Toe oom Sakkie van sport gepraat het, het ek skielik Raymond Abrahams onthou.

Met my aankoms daar is ek net so vriendelik ontvang. “Kyk juffie, rugby is vir Vlottenburg se mense baie spesiaal,” vertel Raymond met trots. “Ons eerste rugbyklub is al in 1913 gestig en ons manne hardloop nog steeds. Ons span se naam is Evergreens en as jy daai naam hoor, dan klop jou hart sommer baie warm.” Hy noem dat die klub in 2013 sy 100ste bestaansjaar gevier het en dat hy kan onthou dat ek en my man ook die geleentheid bygewoon het. Daai aand het van die oudspelers, soos Desmond Hartogh en Eric William, om net ‘n paar te noem, nog hul klubbaadjies aan jong belowende spelers geskenk. Raymond sê die klub het nie destyds ‘n veld gehad het om op te oefen nie, maar met die hulp van die Van Veldens, eienaars van Overgaauw-wynlandgoed, het hulle ‘n stukkie grond bekom. Die Van Veldens het hul beeskraal beskikbaar gestel en so kon die manne van Evergreens hul sport beoefen. Nie net het hulle grond vir oefening beskikbaar gestel nie, maar hulle het ook hul trok beskikbaar gestel sodat die ouens buite-wedstryde kon bywoon. Later het die Solomons-familie ook hul taxi’s beskikbaar gestel sodat die ondersteuners darem langs die veld die manne in groen kon aanmoedig.

Met trots vertel Raymond dat die Pretorius-familie van die plaas Carisbrook groen en wit truie vir Evergreen geborg het. Vandag, 104 jaar later, is sowel die Pretorius- en die Solomons-families en almal wat betrokke was en vandag nog is, nie spyt oor hul bydraes nie, want nie een van die manne het ooit by bendes betrokke geraak nie omdat rugby op Vlottenburg die ouens besig hou. Ek kon sien Raymond is regtig trots op Evergreens. My laaste stop was by Maria Prins, ook bekend as “Kabous”! Kabous is nou 59 jaar oud en ook op Vlottenburg gebore. Toe ek daar instap, word ek begroet met die heerlike geur van boontjiekerrie. Ja, Kabous is bekend vir haar kookvernuf en kook graag vir die gemeenskap se kinders. Dis nou iets wat sy by haar voorvaders geërf het, vertel sy. “Dis belangrik dat wanneer jy bietjie meer het, dit met minderbevoorregtes te deel.” Sy vertel van haar mooi herinneringe as kind by onder meer Oom Charlie se bioskoop. “Ons was grand, jong, daar was middag- en aand-shows gewees. Ons was ook lief vir netbal, die netbalspan se kleure was rooi en wit, dit was nou ‘n span wat enige ander span se bene laat bewe het, want die netbalspan het saam met die Lyonssokkerspelers hul training gekry.” Hulle was bekend as die Young Stars.

Vandag is hier nie meer sulke lekker dinge om te doen nie, vertel Kabous. Sy onthou hoe hulle as kinders op Sondagmiddag in die Eersterivier gaan swem het. “Nou is dit so besoedel, dis darem tragies,” sug sy. Sy vertel ook hoe Aunty Rose Moeris en Meyra Faroa en ‘n hele paar ander grootmense die jongspan met die “past 3”-trein Kaap toe geneem het op ‘n uitstappie om die liggies te gaan kyk en dan het hulle altyd met die “past 10”-trein weer singend teruggekeer. “So kon ons van die plaas ook die stad verken.”

Sy vertel ook van haar vetkoeke wat sy as kind by haar ma geleer bak het. Haar ma het dit altyd bedien met ‘n frikkadel en ons was as kinders so opgewonde wanneer sy daardie spesifieke dis gemaak het. Ek maak dit nou vir my familie en my dogter Nora kan dit ook maak, want sy het dit by my geleer.

Terwyl ek my laaste skeppie van daai lekker kerrieboontjies geniet, sluit Kabous af met: “Ek wil Vlottenburg nie verlaat vir enige ander plek nie, want hier gooi ons klip en word nie gun geskiet nie.”

Ag, wat ‘n fantastiese ervaring was dit vir my om by hierdie wonderlike mense te kuier. Ek is self op Vlottenburg gebore en voor hierdie besoeke het ek nooit besef daar is nog soveel van my erfenis steeds op Vlottenburg te vinde nie.

Of dit nou Vlottenberg, Vlottenburg, Vlotties of Vloteas is, een ding is seker: Hier woon eenvoudige mense, plaasmense, burgers van Vlottenburg, mense propvol liefde vir mekaar in ‘n gemeenskap met ‘n ryke erfenis.

 

Geskryf deur LEATITIA SOLOMONS-MANUEL

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *